|
From: Midstream
To: karoswood.co.za
Sent: Tuesday, May 16, 2006 8:50 PM
Subject: Puik diens van Karos
Ek het onlangs die bouwerk aan my nuwe huis in Midstream Estate voltooi, en op aanbeveling van 'n kollega,
alle vensterrame, deurrame en deure by Karos gekoop. Ek wil graag langs hierdie weg terugvoer verskaf oor
die produkte, en dan ook spesifiek oor die buitengewone diens deur twee van u werknemers.
Eerstens moet ek vir u sê dat die gehalte van Karos se rame en deure verreweg die beste waarde vir geld bied,
en elkeen wat saam met my die bouery dopgehou het, het telkens komplimente gehad vir die top gehalte van u produkte.
Op grond daarvan het etlike eienaars gedurende die afgelope paar maande hul keuse op Karos laat val, en enkeles
het selfs hul bouplanne laat verander vanaf aluminiumrame na hout, net sodat hulle Karos se produkte kon gebruik.
Ek dink dit spreek boekdele vir die gehalte van u produkte, en ek is trots daarop om dit in my huis te hê.
Soos u egter weet, is 'n maatskappy se produkte op sigself net 'n deel van die aankoop - die mense wat die produk
ondersteun speel 'n deurslaggewende rol. Ek het die voorreg gehad om met Rika te werk, en dit was werklik 'n
plesier om met so 'n kundige, gemotiveerde en professionele persoon besigheid te doen. Niks was ooit te veel
moeite vir haar nie, selfs nie eens toe ons desnoods 'n hele paar wysigings aan die plan moes aanbring tydens
die bouery nie. Sy was altyd meer as bereid om te help, en haar vriendelike en hulpvaardige geaardheid het dit
werklik 'n plesier gemaak om haar telkens te kontak. Selfs in daardie gevalle waar ek radeloos op die bouperseel
gestaan het en inderhaas moes bel om 'n dringende aflewering te reël, was dit nooit vir haar 'n beslommernis of
'n probleem nie. Mense soos Rika is uiters skaars, en u kan werklik trots wees om iemand van haar kaliber in u
diens te hê. Dit was bepaald vir my 'n voorreg om met Karos deur haar besigheid te doen.
Die ander persoon wat spesiale vermelding verdien, is Theo. Ek kon hom op enige onmoontlike tyd van die dag bel
(en soms was dit nodig om snaakse ure te werk!), maar hy het altyd behulpsaam en vriendelik op my versoeke gereageer.
Ek kan vir u sonder vrees vir teenspraak sê dat, as dit nie vir Theo was nie, ek onder geen omstandighede op die
aangewese datum in my huis sou ingetrek het nie, wat vir my 'n aansienlike finansiële verlies sou beteken het.
Nie alleen het hy met sy aangename persoonlikheid en hulpvaardige benadering beïndruk nie, maar hy is ook by uitstek
kundig op Karos se produkte, wat natuurlik vertroue inboesem en probleme oplos wat vir my as leek byna onoplosbaar
gelyk het. Theo se bystand het ook verder as net die Karos produkte gegaan; hy het by geleentheid selfs gehelp met
die verkryging van deurhandvatsels toe ek nie beskikbaar was nie en my vrou al radeloos gesoek was. Theo was voorwaar
'n staatmaker, en 'n persoon op wie u met reg baie trots kan wees.
Ek twyfel sterk of daar veel maatskappye is met werknemers soos Theo en Rika, en ek wil u graag vriendelik versoek
om, op u eie diskresie, aan hierdie twee spesiale mense op 'n gepaste geleentheid dankie te sê en erkenning te verleen
vir die puik diens wat hulle aan my en my vrou gelewer het oor die afgelope klompie maande. As ek ooit weer sou bou,
sal ek sonder enige twyfel weer van Karos gebruik maak, en dan sou dit my wens wees om weer met hierdie twee
staatmakers - Rika en Theo - te werk.
Ons wens u maatskappy sterkte toe vir die toekoms, en u kan seker wees dat ons u onvoorwaardelik sal aanbeveel aan
enigiemand wat beplan om te bou.
Vriendelike groete,
Piet van Zyl
Erf 697
Midstream Estate
|